Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA

SARLNUUS SONDAG 13 MEI 2007

U luister na amateurradiostasie ZS6SRL van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. U kan ook na hierdie oggenduitsendings luister deur per Echolink met ZS6FCS te koppel. U kan ook na www.sarl.org.za gaan en op ARMI klik en die daar aangeduide skakels volg om oudio daarvandaan te ontvang. Hierdie, en vorige bulletins, kan ook van die SARL se webwerf nl. www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

Hierdie uitsending word gedoen deur Gustav, ZS6BWN, vanuit Pretoria met herleidings op 51,400 14,235, 10,135, 7,066 en 3,695 MHz asook 438,825 MHz in die Pretoriagebied. (Ander nuuslesers verander soos nodig).

In die nuus vandag:

SUMBANDILASAT OP PAD NA RUSLAND — AMATEURRADIOBAKEN KLINK GOED

RADIOTEGNOLOGIE IN AKSIE GEBEURTENIS IN PORT ELIZABETH SAL NUWE VELDE OPEN

NASIONALE WETENSKAPSWEEK

ZS1HELL TERUGVOERING

INTERNASIONALE MUSEUMDAG 18 MEI

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir die volledige berigte oor die voorgenoemde items, sowel as ander belangrike en interessante berigte.

SUMBANDILASAT OP PAD NA RUSLAND — AMATEURRADIOBAKEN KLINK GOED

Op Vrydag is offisieel in Stellenbosch by Sunspace aan Sumbandilasat tot siens gesê op sy pad na Rusland waar dit na die Russiese vlootbasis te Murmansk geneem sal word vir integrasie in die lanseringstuig. Daarna sal dit in ‘n duikboot aan die Russiese kus gelaai word vir lansering in ‘n 500 km polêre wentelbaan. Afhangende van weerstoestande kan dit tussen 18 en 25 Junie geskied. Nadat Sumbandilasat in sy wentelbaan is, sal hy midoggende en midaande oor Suid-Afrika gaan.

“Die amateurradiobaken en papegaaiherhaler werk goed”, het Hendrik Burger, projekingenieur by Sunspace, aan SA AMSAT gesê. “Dit was goed om te hoor dat die satelliet reageer op ‘hello Sumbandilasat’ deur die groet hard en duidelik te herhaal. Dit het ons ‘n warm gevoel om die hart gegee toe die baken die opname van Anton Coetzee, ‘n leerling van Kimberley Tegniese Hoërskool, wat die kompetisie vir die satellietbakenboodskap gewen het, se boodskap herhaal het.

111 KANDIDATE SKRYF DONDERDAG DIE RAE

Op Donderdag 17 Mei sal 111 kandidate die RAE aanpak in 17 eksamensentra in Suid-Afrika. Die eksamen word aangebied en geadministreer deur die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale liggaam vir amateurradio in Suid-Afrika. 32 kandidate sal die eksamen vir die toegangsvlak-, ZU-lisensie aandurf terwyl 79 die A-klas-eksamen sal aflê. Die enkele grootste groep van kandidate op toegangsvlak is van die John Vorster Tegniese Hoërskool in Pretoria waar die Magalies Radioamateurklub onlangs ‘n radioklub in die lewe geroep het.

Die SARL wens alle kandidate sukses toe met die eksamen en sien daarna uit om hulle stemme binnekort op die lug te hoor.

Eksamennommers is aan kandidate gepos en is ook beskikbaar op www.sarl.org.za. Kandidate word daaraan herinner dat elkeen die lisensie-aansoekvorm, wat saam met die eksamenbesonderhede gepos is, te voltooi en in te dien.

RADIOTEGNOLOGIE IN AKSIE (RTIA) GEBEURTENIS IN PORT ELIZABETH SAL NUWE VELDE OPEN

Die SARL se RTIA-program wat volgende Saterdag 19 Junie in Port Elizabeth aangebied sal word, sal nuwe velde open met ‘n aanbieding en demonstrasie deur Chris Scarr, ZS2AAW, oor die voorgestelde PEARS se WiFi-netwerk. Dié inisiatief sal verreikende voordele bied aan die amateurradiogemeenskap van Port Elizabeth. Daar word verwag dat dit die aaandag van professionele IT-ouens sal trek , en hulle mag aanmoedig om by die amateurgemeenskap aan te sluit.

Al die aanbiedings gaan om nuwe tegnologieë en aktiwiteite, en moet nie misgeloop word nie. Die SARL rig ‘n ope uitnodiging aan alle persone wat in kommunikasietegnologie belangstel om die RTIA by te woon wat in die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit gehou sal word. Toegangsgeld is R20, wat deelname aan die bywoningstrekking insluit. Leerders en studente geniet vrye toegang, Die volledige program is beskikbaar op www.sarl.org.za, draai af tot by RTA, links onder op die tuisblad.

RUIMTE-GURU MARK SHUTTLEWORTH SAL VRAE VAN LEERDERS OP JEUGDAG BEANTWOORD

Help lokale jeugdiges om vrae aan ruimte-guru, Mark Shuttleworth, te stel wanneer hy by ‘n Integnet-tipe opset aansluit op 16 Junie 2007 tussen 10:00 en 11:30 deur ‘n amateurradiostasie by ‘n skool op te rig, of by padvindersaal of ‘n winkelkompleks.

Klubs word gevra om gedurende hierdie week ‘n koppeling aan die konferensiefasiliteit te bespreek sodat die nodige reelings getref kan word. Nog verskeie ander kompetisies word beplan, en besonderhede sal in die nabye toekoms bekend gemaak word. Die basis vir die kompetisies is vir die deelnemende amateurradiostasies om jong mense, onder die toesig van gelisensieerde amateurs, soveel moontlik QSO’s te laat voer, na afloop van die koppeling met Mark Shuttleworth.

Om ‘n koppeling te bespreek, stuur ‘n e-pos aan armi@sarl.org.za en verskaf die telefoonnommer en besonderhede van die herhaler wat gebruik gaan word. Verskaf ook besonderhede van die publieke aktiwiteit wat u gaan aanbied sodat dit ingesluit kan word in die publisiteitsveldtog wat op 21 Mei gaan afskop.

ONS ROEP ALLE KLUBVOORSITTERS

Onlangs het die Itchen Valley radioklub drie beurse vir studente jonger as 25 jaar beskikbaar gestel om radioamateurs te word. Die beurse bedra elkeen R650 en sal studente help om vir die klas A radioamateureksamen in Oktober 2007 in te skryf. Die beurse staan bekend as die “Itchen Valley
Radio Club YARP 2007 Bursaries” en dit dek die eksameninskrywingsfooi sowel as een jaar se juniorlidmaatskap van die SARL, indien die eksamen geslaag word, asook R150 ten bate van onkoste gehef deur lokale klubs vir RAE-opleiding.

Klubvoorsitters word aangemoedig om jong studente met potensiaal te identifiseer en om hulle by te staan om die aansoekvorm wat op www.amateurradio.org.za beskikbaar is, te voltooi.

NASIONALE WETENSKAPWEEK

As deel van die Departement van Wetenskap en Tegnologie se Nasionale Wetenskapweek sal die Hermanus Magnetiese observatorium (HMO),in samewerking met die Overbergradioklub (ZS1OAR), gasheer speel vir ’n ope dag by die observatorium om amateurradio aan die publiek, en in besonder die jeug, bekend te stel. U word uitgenooi om op Saterdag 19 Mei, in die oggend, in te stem en deel te neem aan oproepe aan die plaaslike klub en enige CQ’s, wat vanaf Hermanus gemaak word, te beantwoord. Spesiale gedenk-QSL-kaarte sal aan stasies gestuur word wat gelog word.

ZS1HELL TERUGVOERING

Die 12 spanlede wat die spesiale geleentheidstasie, ZS1HELL, oor die naweek van 28 April tot 1 Mei, in Die Hel te Gamkaskloof bedryf het, bedank graag alle amateurs wat met hulle kontak gemaak het. In hulle poging om 'n WAZS-sertifikaat te verwerf het die span binne 'n tydperk van 60 uur met 'n totaal van 343 Suid-Afrikaanse stasies kontak gemaak.

Binne 48 uur nadat die volledige logstaat op die e-QSL-webblad van die SARL gelaai is, is al die nodige kontakte vir Afdelings 1,2,3 en 4 bevestig. Ongelukkig is daar nog heelwat Afdeling 5 en 6 stasies wat nie hulle QSL’s bevestig het nie. Die span doen graag 'n beroep op alle amateurs wat die stasie ZS1HELL gekontak het, om of per e-QSL via die SARL-webwerf, of per gewone pos die kontak te bevestig. Die posadres is Posbus 273, STRAND,m 7140.

INTERNASIONALE MUSEUMDAG 18 MEI 2007

Die Zululand Amateurradioklub gaan op Vrydag 18 Mei 2007 vanaf die Fort Nongqayi Museumdorp, Eshowe, aktief wees met roepsein ZS5ZLB. Die stasie sal vanaf 08:00 tot 15:00 op die lug wees — meestal op 40 meter.

Hierdie besonderse geleentheid dek 'n program ter herdenking van ons gesamentlike erfenis van die verskillende kultuurgroepe betrokke in die geskiedenis van ons streek. Slegs een museum in Kwazulu-Natal word jaarliks gekies om so 'n funksie aan te bied. QSL-kaarte sal gestuur word aan alle amateurs wat met die stasie kontak maak..

SPITSE OP DIE LUG (SOTA)

Het jy al lus gehad om aan die program deel te neem maar is nie in staat om uit te vaar berge toe nie? Nou kan jy deelneem deur vir Sid, ZS5AYC, Tom, ZS6TMO, Detlev, ZS6BAB of Lucas, ZS6ACT op Saterdag 19 Mei te kontak op 145,500 MHz, 14,165 MHz of 7,065 MHz. As die weer dit toelaat gaan hulle Mount-Aux-Sources, SOTA-verwysing ZS/KN-009, probeer aktiveer. Hulle sal aktief wees vanaf ±11:30 SAT. Gee hulle asseblief 'n kontak en maak vir jouself ook 'n paar punte bymekaar.

SOTA is 'n internasionale program wat radioamateurs aanmoedig om hul stokperdjie uit te brei na kwalifiserende bergspitse. Daar is 3 groepe deelnemers naamlik aktiveerders, volgers en luisteraars. Aktiveerders is die mense wat 'n stasie vanaf die bergkruin bedryf en die volgers maak met hulle kontak uit die gerief van sy hok. Selfs die luisteraars kan ook deelneem deur die QSO's te log. Vir elkeen van die 3 groepe is daar sekere riglyne en ook toekennings. In die RSA is daar meer as 300 kwalifiserende spitse. Hierdie inligting kan verkry word op internet by www.sota.org.uk en die RSA-spesifieke inligting by www.qsl.net/sotasa of kontak Lucas by 084 509 1477.

VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak baie laag sal wees. Die verwagte geomagnetiese veld sal wissel van onrustige tot aktiewe vlakke gedurende 21 tot 23 Mei. Die verwagte effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees.

20 m en 15 m is die beste keuse vir DX met moontlike 15 en 20 m openinge vanaf 06:00 en weer om 12:00 SAT na Indië. Na Australië toe kan 40 m om 22:00 oopmaak. Vanaf ongeveer 14:00 is daar moontlike goeie 15 en 20 m openinge na Europa. Kontakte met die Verenigde State gaan baie uitdagend wees. Vir die morsekode- en digitale entoesiaste kan dit lonend wees om 10 MHz te monitor.

Alhoewel die DX-toestande nie te bemoedigend is nie, kan HF jou nog steeds altyd verras. Skakel jou stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Verder is plaaslike toestande uitstekend en is dit nou die ideale geleentheid om jou "Worked All ZS"-toekenning te verwerf.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

15 Mei - Sluitingsdatum vir aansoeke vir die Itchen Valley Klub se beurse;
18 Mei – Museumdag met ZS5ZLB op die lug;
19 Mei – Spitse op die lug;
19 Mei – Hermanus Magnetieseobservatorium ope dag;
19 Mei – ERK Jakalsjag;
16 Junie – SARL Jeugdag;
30 Junie - Sluitingsdatum vir SA-DX-opname.

Sarlnuus maak staat op nuusitems wat vir radioamateurs van belang is en deur klubs en individue ingestuur word. Die enigste manier om te verseker dat u berigte Sarlnuus bereik is om dit in die korrekte plek op die webwerf van die SARL nl. www.sarl.org.za/newsinbox.asp te plaas nie later nie as die Donderdag wat die bulletin voorafgaan. Dit sal waardeer word indien u dit in Afrikaans sowel as Engels sal doen.

Die SARL nooi ook alle luisteraars om elke Sondagoggend om 10:00 SAT na die program Amateur Radio Mirror International op 145,750 MHz in die Pretoriagebied, en op verskeie ander herhalers, en met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 695 kHz, te luister. Oudiostrome is ook vanaf www.zs6mrk.org sowel as per Echolink vanaf ZS6FCS, soos vir hierdie bulletin, beskikbaar. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Telkom en Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Gustav, ZS6BWN, saamgestel is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003